Translate

Augustus 26, 2013

Mikro-organismes: Virusse

Klasifikasie, eienskappe en struktuur van mikro-organismes: Virusse

Ter voorbereiding vir Graad 11; Eerste kwaartaal - Lewenswetenskappe moet die leerders geleer word van virusse. Deel gerus met my en ander onderwysers jou ondervind en materiaal. Hier volg inligting wat ek gedurende my lesing oor virusse met die leerders behandel het.

Mikrobes is baie divers; hulle sluit virusse, bakterieë, fungi en protiste (alge en protosoë) in. Hulle kom in groot getalle in feitlik alle omgewings op die aarde voor. Mikro-organismes kan patogenies (wat siekte veroorsaak) of nie-patogenies (skadeloos) wees. Mikrobe wat siektes veroorsaak, staan as patogene of kieme bekend. Kieme sluit dus virusse, bakteriee, sommige soorte protiste en fungi in.

Virusse is deel van lewe op aarde en infekteer diere, plante en selfs bakterieë. Dit is moeilik om hulle te klassifiseer daarom word hulle tans nie in een van die groot ryke geplaas nie. Dit is egter net so moeilik om hulle te bestudeer, aangesien hulle in lewende gasheermateriaal moet groei. Virusse is besonders klein; hulle kan net met 'n elektronmikroskoop gesien word. Die kop van 'n kopspeld kan ongeveer vyfhonderd miljoen verkouevirusse huisves! Hier is 'n video (vanaf youtube) wat ek tydens my les gebruik het om te wys hoe 'n virus die liggaam aanval.

Die klank van die video kan afgesit word om self te verduidelik wat besig is om te gebeur.


Virusse is nie werklik lewende organismes nie omdat hulle nie oor eienskappe van lewende organismes beskik nie (haal nie asem, eet, skei uit, groei en beweeg op eie nie). Wetenskaplikes debateer baie oor hierdie onderwerp.

Virusse is vaste intrasellulêre parasiete omdat hulle net binne die selle van lewende organismes kan oorleef. Hulle kan ook net binne-in lewende selle vermeerder, waar die virale nukleiënsuur hulself kopiër deur materiaal van die gasheersel te gebruik om nuwe virusse te vorm (hul het geen selorganelle of sitoplasma om vanself te repliseer nie).

Virusse word altyd met siektes verbind omdat die gasheersel beskadig of vernietig word wanneer die nuwe virusse die gasheerselle verlaat.Virusse kan lank dormant (rustend) in die organisme bly.

Eienskappe van virusse (opgesom):

  • Ultramikroskopies en filtreerbaar.
  • Het geen metabolisme, respiratoriese ensieme, organelle of sitoplasma nie.
  • Het stringe DNS of RNS -nooit albei nie.
  • vaste intrasellulêre parasiete.
  • Altyd patogenies (kieme).

Virusse kom in verskillende vorms voor:
Poliëdries (veelvlakkig), bv. die adenovirus.
Helikoidaal (skroefvormig), bv. die tabakvirus.
Kompleks (bakteriofage), het 'n kop, skild en stertweefsel.

Prente kan vertoon word.

Die algemene bou van 'n virus:


Eenvoudige bou wat uit 'n sentrale deel van nukleiensuur, DNA of RNA bestaan (ander lewende organismes het beide). Die nukleiënsuur word dan deur 'n proteiënlaag of kapsied omring. By sommige virusse word die kapsied omhul met 'n laag lipiede (vet). Die omhulsel beskerm die virus teen die gasheer se kernensieme.





Die siklus van 'n aansteeklike siekte
Aansteeklike siektes wat van een gasheer na 'n ander kan versprei, word ook besmet oof oordraagbaar genoem. Elke oordraagbare siekte het 'n unieke siklus waarvolgens dit verloop wat sy oordrag en verspreiding bevorder.

Die replisering van menslike immuniteitsgebrekvirus (MIV):

  1. MIV heg aan die menslike sel. RNS, ensieme en transkripsie dring die sel binne. 
  2. Die ensieme help om RNS in DNS te omskep, wat die selkern van die gasheersel binnedring.
  3. Die virus span die gasheersel se meganismes in om virus-proteiëne te vervaardig.
  4. Die virusproteiëne versamel om nuwe virusartikels te vorm en nadat dit vrygestel is, is die nuwe virus gereed om bykomende selle te infekteer.

Navorsingsprojek - die leerders moet duidelike instruksies hieroor gegee word. Leerders kan navorsing doen oor 'n spesifieke virale infeksie en dit dan aan die klas voordra of as geskrewe opdrag inhandig.

Onthou altyd die spesifieke doelwitte van Lewenswetenskap onderandere:

  • Dat die leerders sal verstaan wat hulle geleer word; nie soos papegaaie nie, maar deur 'n verskeidenheid oefeninge sowel as om kennis en begrippe te toets soos wat hulle aangaan.
  • Ontwikkel 'n nuuskierigheid om te wil weet hoe en hoekom sekere verandering plaasvind.
  • Leerders moet die rol en toepassing van Lewenswetenskap in die alledaagse lewe verstaan.


Daar word van die leerders verwag om die gevolg en bestuur van verskillende siektes wat deur mikro-organismes veroorsaak word, te leer. Deel asseblief met my inligting oor een van die virale siektes wat jy in jou klas met die leerders behandel het.

Volgende onderwerp:
Klasifikasie, eienskappe en struktuur van mikro-organismes: Bakterieë